ONS MOTTO: ONTSPAN, GESELS, VERSTAAN
Info: [email protected] of 0825711721 [email protected] of 0823964100 Vul gerus ons kontakvorm onder aan hierdie blad in: |
ONS IS BESKIKBAAR AS:
MOTIVERINGSPREKERS / LEWENSAFRIGTERS Ds. Anton & René van Zyl Saam of individueel praat ons ʼn hond uit ʼn bos by kerkkampe, oggend-/ aandfunksies, orals. Ons wil jou laat lag, ontspan en inspireer met ons eie loop-en-val storie, een waar God ons elke keer uit genade opgetel het, daar waar die tekkie die teer slaan. Ons kruip dikwels deur modder en stort krokodiltrane, maar kom elke keer weer regop en lag. Ellende ken ons: Huwelikskrisisse, ʼn breingestremde kind, bankrotskappe, verwerping deur kerk, vriende en mekaar. Eenvoudig, prakties en informeel, pas ons aan by jou tema; met getuienisse uit ons eie lewens. Hartbeespoort is ons tuisdorp, maar ons toer graag... (Waarskuwing; ons is nie hoogheilig, vroom of voorskriftelik nie: ons is eenvoudig, prakties, met geen vooroordele nie. Soos Job ken ons na dese God se Vaderhart vir 'n gebroke mensdom in 'n stukkende wêreld. Jy mag deurentyd vrae vra, verskil, verryk of saampraat.) |
WIE IS ANTON VAN ZYL?Teoloog, Spreker, Ingenieur, Sakeman (B.Th./ M.Div/ MA:Antieke Tale/ MA Gesinsterapie/ MA Missiologie. /B.Ing.)
Die wurgmomente van Antonius van donderbos van bloudraad van Zyl sal jou dankbaar na jou eie ellendes laat verlang. Hy het as myner se seun grootgeword, Ingenieurswese studeer, die lewe aangegryp en sy miljoene voor 30 gemaak, al is daar krioelende geraamtes in die kas. Nadat hy op 40 van sy voete af geklap is en alles verloor, studeer hy voltyds Teologie & probeer die eenvoud van God se Woord en genade prakties oordra, maar die teëspoed hou nie op nie. Vreesloos in geloof pak hy enorme projekte aan, stig ʼn kerk asook ʼn tehuis vir breingestremdes (en bou beide projekte self). Met 6 grade en ʼn berg lewenservaring (voetfoute en al) kan hy jou dalk net iets leer van val, opstaan en vlieg saam met ʼn geduldige en betrokke Vader. Anton noem homself ook 'n siels-mekêniek want hy ken karre se binnegoed en die mens se brein werk verlangs dieselfde! SY ROL AS SKRYWER: Anton is deesdae ook n kranige skrywer en het verskeie praktiese, eenvoudige preekreekse en Bybelstudies geskryf. Kontak hom gerus hieroor. [email protected] Sel: 0825711721 XXXXXX |
WIE IS RENé VAN ZYL?Skrywer, Spreker, Blogger, Ontwerper: Kinderkerkmateriaal, Vegter vir Breingestremdes se regte.
(BA Komm. Hons. Joernalistiek) Hierdie onortodokse Mevrou Doeminie skryf lekker liefdesverhale, jeugavonture en musiekblyspele met humor en ʼn skeut informele Evangelie daarmee saam. As kunssinnige introvert durf sy die lewe met ʼn boots-and-all, avontuurlustige ekstrovert-man aan en moes dikwels in lewenskrisisse as emosionele buffer optree. Meermale bid, smeek en stoei sy by God vir haar gesin terwyl sy 2 begaafde dogters grootmaak en deel met die terapie, oefening en uitdagings van ʼn erg breingestremde seun. Haar persoonlike en kreatiewe drome moes dus sterf. Deesdae is René tuis in haar dik vel, ʼn aktivis vir gestremdes; ʼn eksentrieke ekstroverte opportunis met humor as haar wapen en ʼn diepgewortelde, gemaklike verhouding met haar God. René is al 'n goeie 15 jaar besig met kinderwerk en die skryf van interaktiewe kinderkerkmateriaal onder die naam: Bybelboekwurm. HAAR ROL AS SKRYWER: Vir meer inligting oor boeke deur René van Zyl: kliek gerus op die skakel: lapa.co.za/Skrywer/rene-van-zyl.html Ook beskikbaar: Graffiti boeke en Amazon (as e-boeke) XXXXXX |
Skakels na ons webtuistes:
|
Beide Anton en René is ywerige skrywers.
Anton het vele Bybelstudies, preekroosters en temas neergepen wat prakties en eenvoudig is. Asook sy eie getuienis: Van Kakiebos tot Kremetart. René se liefdesverhale en Samesweringsroman: Die Alfadokument, hoog in aanvraag (Beskikbaar by lapa.co.za en groot boekwinkels). Sy het ook n aksie-avontuurverhaal geskryf vir die jeugmark asook vir grootmense: Wee Monk's Tale, the Secret of Immortality (Amazon e-book) . Haar interaktiewe kinderkerk materiaal: Bybelboekwurm is baie gewild en word deur honderde kerk regoor SA gebruik. |
TIPE INLIGTINGSESSIES:
Onthou: ons is nie hoogheilig, vroom en voorskriftelik nie: ons is eenvoudig en prakties, met geen vooroordele nie. 1. Anton & René: Huweliksgesprekke/-Naweke *Ons getuienis met heelwat opdraendes in ons lewens. En lesse wat ons by God geleer het. *Insig in 'n 'breingestremde' gesinslewe. *Huwelikskrisisse *Enige tema wat jy aangespreek wil hê - ons huwelik het dit vir seker al deurgemaak en oorleef. 2. Anton Om kennis eenvoudig en prakties oor te dra is sy forté: Dus kan hy oor vele onderwerpe insiggewend gesels: *Bybel in n neutedop *Bybelboeke: saam of individueel (oorsig of in diepte) *Die Bybel in praktyk, waar die tekkie die teer slaan. *God se plan met jou/ Skeppingsdoel *Oorlewing in die sakewereld *Enige tema waaraan jy kan dink: bankrotskap, lewenskeuses, voetfoute, God se Vaderhart, ens. 3. René Getuienis met: Hoop en Humor. Sy was al meermale platgeslaan, in die huwelik, met die uitdagings van 'n kind wat breingestremd geraak het, persoonlike drome en gebede wat nie verhoor is nie (en die wat verhoor is!), ergere huweliks- en lewenskrisisse Met humor deel sy haar getuienis met jou. 'n Loopbaan wat heeltyd kortgeknip word deur drastiese omstandighede: Van Joernalis, P.R.O, natruurbewaringsopvoedkundige, kinderwerker, poppemeester, tot tuisbly ma met 'n voltydse oefenprogram vir haar gestremde kind. Vandag, na baie vasbyt en verwerping, is sy n erkende skrywer met 11 boeke op haar kerfstok en 12 Bybelse musiekblyspele. Soms dink sy nog sy het die agterspeen gekry en is 'n toeskouer van hoe ander floreer. Maar haar geloof en eenvoudige praktiese verhouding met God laat haar gelukkig aanhou beweeg en geraas maak. |